Nuwe, opwindende stem in SA letterkunde
‘n resensie van my boek deur André P Brink
Nuwe, opwindende stem in SA letterkunde
Die Klein-Karoo is een van die land se vrugbaarste streke: vir volstruise, lusern en ander gewasse, en vir stories. Vertellers vanaf CJ Langenhoven tot Abraham de Vries het gesorg dat dié gebied voortdurend gekarteer bly. En pas het daar ’n nuwe opwindende stem bygekom wat duidelik bestem is om een van die onthoubare name in ons letterkunde te word.
Dié naam is Willemien Brümmer, bekende en bekroonde joernalis van Die Burger, en bowendien agterkleindogter van Langenhoven.
Haar debuutwerk, onder die fassinerende titel Die Dag toe Ek my Hare Losgemaak het, is pas deur Human & Rousseau gepubliseer.
Dit behoort tot ’n genre wat die afgelope paar dekades in die wêreldliteratuur al meer prominent geraak het: op die oog af ’n versameling kortverhale wat elkeen afsonderlik kan bestaan, maar wat ook as ’n groeiende groter geheel saamgelees kan word.
In Afrikaans was Fransi Phillips se Clown-stories een van die vroeë voorbeelde; in Engels is dit by ons al skitterend beoefen deur Zoë Wicomb, in You Can’t Get Lost in Cape Town.
In 12 stories, almal vindingryk en indrukwekkend, met net enkele dowwe kolle (die ietwat te enkelduidige “Die Sneeukoningin”, of “Skerwe”, of die te kortaf “Het jou!”), word daar telkens ’n digte en veelduidige teks geweef rondom die figuur van Mia, vanaf jong kind tot jong moeder, in die hart van haar familie wat deur middelpuntvliedende én -soekende magte bepaal word.
» read more
